Met eerste oogopslag is Beaufort-Wes net nog n dorpie in die Groot Karoo, ingemessel tussen die oop vlaktes, waarvan mense in storieboeke praat en die jong kinders van wil wegkom sodra hulle klaar is met skool. Maar as mens mooi gaan kyk, soos ek gemaak het vanaf n koppie wat ek uitgeklim het agter ons oornag plekkie, sien jy die rook dartel uit n skoorsteen, die dorpsmense wat kuier by die rolbalklub, bakkies wat huis toe jaag en die banke op die stoepe van die onderdorp.
Elke dorp het sy eie reuke en geure en gevoel, nie een is dieselfde nie. As jy mooi luister kan jy hoor hoe Beaufort-Wes praat oor jare se ou hartseer verhale, want selde het lewens gelukkige eindes aan die kant van glorie. Ek het die koppie heel vol ywer beginne uitklim in my vellies en halfpad op besef dat dit dalk nie een van my beste planne was nie. Maar ek was al te vêr op om nou om te draai en sjoe, was ek bly ek het nie omgedraai net as gevolg van n bietjie ongemak nie. Die uitsig was baie mooi en ek het gedink dit kan nie mooier nie… totdat ek tot heelbo was en die dam gesien het voor my uitstrek aan die ander kant. Ek wonder hoeveel mense klim nog die koppies in hulle lewens uit, oor die Karoo bossies en klippe om perspektief te kry en weer asem te skep?
Ek dink baie keer aan die inwoners van sulke klein dorpies. Hulle is die asems wat die dorp en die plase rondom dit aan die lewe hou. Ons kan so baie keer dink dis n mooi ou klein dorpie en vir so paar uur voel asof ons ook so kan bly en in ons naïwitiet beny ons hulle. Ons sien nie die vergrype na drank, dwelms, sigarette en ander krukke in hul beknopte verknotheid nie. Ons sien ook nie die uitgelate verlatenheid van die inwoners oor n naweek of die tevredenheid te midde die soeke na meer nie. Ons is maar net vreemdelinge wat bietjie van die hemel wil ervaar in die verlate Karoo waar God so naby voel. Maar een ding kan ek sê, as n Gautenger wat dalk oogaf volgens die wêreld meer het en meer kan kry en doen en ervaar; die inwoners van beaufort-Wes het soveel meer.
Comments