Ek het vandag deur pragtige dele van ons land gery op pad na Colesberg, waar ons vir een aand oornag. Ek het weereens besef watse besonderse natuurskoon Suid-Afrika het (nie dat mens dit maklik vergeet nie). So ru, ongerep en kras op n manier- wat jy sien is wat jy kry. Onapologeties. Net hoe dit is.
Die vlaktes van die Vrystaat het ons verwelkom met haar oopheid en reine skoonheid. Dit was groen en gesond en die lug was vol opwinding vir die reëns wat wink in die vertes. n Paar storms het ons windveërs kom toets met hul vinnige neerstorting van seën vir die genade boere wat gereeld nog terugdink in dankbaarheid aan die swaar tye van droogte, wat ook soms nog sy nagmerrie dreigemente laat rondhang soos n valse reënwolk. Aldam en Tierpoort het ons vining voor gaan hallo sê en n paar stoppies langs die pad het die lank gesit so bietjie gebreek. Ons het ook by die Gariepdam met sy massiewe damwal gestop en geparkeer op die wal waar mens nie mag nie. Die belewenis van een voet in die Oos-Kaap en een in die Vrystaat was heel te normaal en ek het glad nie in twee geskeur gevoel soos wat ek wou nie. Daar was n skilpad wat die pad wou oorsteek, maar toe ons wou omdraai om te gaan help dra aan sy huisie was hy soos mis voor die son… ek wens alle sterkte aan daai meneertjie toe en hoop ter harte dat hy die pad kon vat.
Die Vrye Staat het ons te vining gegroet na my smaak om ons oor te handig aan die growwe Noord-Kaap. Daar is so n heuwel wat mens oorsteek op die N1 en dan weet mens sommer die vlaktes van die Vrystaat is vir eers agter jou… en ek praat nie net van die brug oor die Oranje nie. Die Karoo se koppies begin kop uitsteek en iets in my word ook wakker. Dis n lewe in mens se siel wat hunker na die bossies en sand en verlatenheid wat joune verstaan. Nie baie sal weet wat ek sê as ek praat van hierdie land wat my roep nie. Sy het n stem wat oorverdowend sag met jou praat en dis n ding van of jy hoor en antwoord, of jy doen nie.
Comments