top of page
Search
Writer's pictureChanelle Oosthuizen

Padlangs

Updated: Dec 19, 2022

11/12/2022

Ek wou eers nie eintlik oor die eetplekkies, al die stoppies en die mense praat nie. Want ek het gevoel dat dit onnodig is en dat ek die wese van ons land wou vasvang. Maar toe besef ek dat dit alles ook deel is van wat Suid Afrika vorm - al die unieke restaurante, impulsiewe stoppe, uitlok-uit-jou-kar-uitsigte en ooms wat waai uit hulle bakkies.


Gisteraand was ons by die Plattelander (die eerstydse koerant in daardie gebied se naam) in Colesberg vir aandete en dit was n lieflike plekkie waar die kleurling kelners vir die eienaars se 5 kinders oplei om ook kelners te word. Die gastehuis waar ons oornag het, se naam is Spes Bona en die mense het ons sommer ingenooi om die sokker te kyk saam hulle en die laaste paar oomblikke van Renaldo se loopbaan te beleef. Die eienares het vir ons n Padstal boekie geleen en dit het gelei tot ek wat tot laat deurblaai en toe geïnspireerd beginne skrywe aan alles wat ek wil doen en sien en beleef in my leeftyd. Vanoggend is ons vroegerig uit Colesberg en die Padstal boekie het sy truuk gedoen, want ons het al by die eerste een gestop wat skaars 5min buite die dorpie is! Gelaai met koffie en beskuit luister ons musiek, afwisselend tussen Diandra en my playlists.


Noupoort het n rehabilitasie sentrum. Ek dink dis al wat mense van daardie dorpie weet. Ons het vandag daar deur gery en die pasiënte gesien die strate loop op pad na kerk. Vir sommiges is dit waar n nuwe lewe begin, maar vir ander is dit hel onder die warm son van die Noord-Kaap. Dis n fyn lyn vir ons almal tussen Noupoort en verby ry. Ek het al menigmale besef dis net genade wat my die kans gee om daagliks die nou weg te trotseer en ook net genade wat my kom haal as ek afwyk Noupoort se kant toe. Daar was n oom wat voor ons uitgery het na sy huisie hoog op teen een van die heuwels, met blommetjies buite en n mooi tuinhekkie. Ons het hom gedoop die “Up-movie” oom. En ek wonder oor sy lewensverhaal, waarvandaan kom hy, het hy familie, het hy n liefde gehad? Nieu Bethesda is nog n juweel waarvan nie baie weet nie en sy het ons die voorreg gegun het om haar te verken. Haar grondpaadjies en eetplekkies is versteek agter n pas se stiltes en draaie, sy lê ingesnoer in n vallei knus en tevrede.


Die Noord-Kaap het n aantrekking wat mens laat stadiger ry en wens dat die hoofweg nog langer voor mens uitstrek. Die son bak net anders en maak mens sommer lus om te stop, n heining te spring en die boer se plaasdam te benut met skape as ons toeskouers. Die vlaktes trek my nader en gee idees van rugsakkie aantrek en net hardloop oor die velde heen na nêrens, maar tog na orals in my gemoed wat ek nie elders kan bereik nie. Die dorpies hier lyk eenders, alhoewel elkeen n ander gevoel het. Deur Graaff-Reinet met die mooi kerk, Aberdeen met die oulike petrol joggie en Willowmore waar ek amper n hond raakry by sy Royal Hotel met die koketterige kroegman. De Rust is nog daar met sy pienk olifant en Oudtshoorn is n dorpie vol lewe. Ons oornag by Le Petit in die Klein Karoo waar n Fransman ons vriendelik (kan jy dit glo?!) groet. Hy vertel van sy lewe terwyl ons die intieme gemeenskappie van Schoemanshoek deurloer van bo. Die kerk het n area agter waar sy lede lekker kuier na die tyd en ek beny die eenvoud van bekendheid in so n kleine dorpie. De Oude Meul is n baie luukse hotel met n restaurant; net-net bo ons uiteet budget (insert knipoog emojie). So ons foeter toe terug Oudtshoorn toe na n gesellige restaurant met n lekker brandewyntjie en pasta.


Die naghemel in die (Klein) Karoo is besonders. Nog altyd sien ek die meeste uit om die sterre te bewonder asof dit net vir my daar uitgestal is. Die sterre en planete het n manier om jou te laat klein voel, so onbeduidend in ons nietigheid. Hulle praat ook van hoop, van n vooruistig na die môre met sy warm strale en n nuwe begin. Ek het so opgekyk na die hemel en “ek wil net vry wees, Here”, het ek gepleit. Eensklaps kom ek tot die waarheid dat dit al reeds so is. Ware vryheid lê in die wete dat ek nie my eie is nie, dat alles gaan vergaan en terugkeer na stof. Dat ek aan niemand hoef te antwoord behalwe my Vader en dat daar juis soveel vryheid oopgesluit lê in die oorgee van alle beheer. Vry wees is nie om te kan roadtrip en avontuur nie, dis om ontnugterend onder die sterre te staan met die standvastigheid dat Hy my vry maak om meer soos Hy te wees.






33 views0 comments

Recent Posts

See All

Genade

Ek het laas week weer gaan kospakkies uitdeel, n groot deel van hoe Hoopdraers (nie-winsgewende maatskappy) geleentheid maak om die Woord...

Kerstyd

Ek wonder baie keer oor die mense wat Hoopdraers gehelp het en steeds huidiglik ondersteun. Daar is so baie stories wat ek kan deel oor...

Ietsies

Comments


bottom of page