Ek het hierdie vreeslike avontuurlus in my hart wat dormant lê totdat dit begin lewe kry. Dit gebeur gewoonlik so net buite Pretoria. En dan kan dit nie gestop word nie. Ek wil al die dorpies sien, al die hoekies gaan verken en in elke see gaan swem.
Ek het gister byna verdrink toe ek te diep in die see ingeswem het. Die lewensredders het my kom terugroep en met n gewoed en geskel vir my mooi vertel hoe ek met vuur speel in die diepe waters. Maar dit was ongelooflik om terug te kyk na al die mensies op die strand waar elkeen n eie lewe het en eintlik net n huisie by die see wil hê in rustige Glentana. Gisteraand toe ons eet by n restaurant op die strand in Wildernis, was n ander dame weggeneem in n ambulans. Sy het ook amper verdrink. Dit laat jou peins oor hoe wispelturig ons lewens is en hoe maklik jou vuurtjie geblus kan word. Hoe maklik ons lewenspaadjies so onherroeplik in n oogwink kan verander.
Sedgefield was ons vakansie-plek toe ons klein was. Ons het gister daar deurgery, spontaan by n kerk basaar gestop en met die mense gesels. Natuurlik het ek pannekoek vir my gekoop en ook n paar kaggelkakkies, alles in die naam van ondersteuning vir die Christelike gemeenskap van die Wes-Kaap. Dis waarvoor ek lewe- sulke impulsiewe stoppies en geselsies met Afrikaanse mense wat dit vining gaan vergeet, maar wat ek vir lank gaan bewaar in my skattekissie van ervaringe. Ons het altyd gebly in n ou houthuis wat uitkyk oor die dorpie, naby aan die lagoon. Ek kan sweer dat dieselfde roeibootjie steeds vasgemaak staan teen een van die lamppale van toe ons klein was en daar verby gehardloop het. Baie verander in die lewe, maar tog bly so baie dieselfde ook.
Ek het n onrustigheid in my siel, maar ook n standvastigheid wat nie sal wankel nie. My tone kriewel en my hart bokspring, my siel wil nie tot bedaring kom nie. Dit lê vasgemaak in die balans, in wat wen op watter dag en wat mens toelaat wanneer. Ek probeer hierdie beskyf so bes ek kan, maar ek glo ook iemand gaan verstaan, of julle gaan nie.
Comments