Kerstyd
- Chanelle Oosthuizen
- Dec 24, 2022
- 2 min read
Ek wonder baie keer oor die mense wat Hoopdraers gehelp het en steeds huidiglik ondersteun. Daar is so baie stories wat ek kan deel oor gesinne aan wie ons vir n kort tydjie bystand gebied het en dan netso in die stilte weer weggeraak het. Waantoe hulle is en wat nou met die kindjie (of vyf) gebeur, is duister. Al wat ek nou kan doen is hoop en bid dat daardie gesinne iets van Jesus by ons ervaar het en dalk net hulle lewens omgedraai het. Ek wonder veral in Kerstyd oor die huishoudings en gesinne… is hulle by geliefdes, is hulle liefdevol met mekaar, hou die gesinne die rede agter Kersfees in gedagte vas?
Dis vir baie n hartseer tyd - Kersfees. Baie wil die tyd laat verby snel deur dit aan te hits met drank en ander dingetjies van die wêreld wat tog so lekker is. Dis familie tyd en onder hierdie faandel lê daar baie seer; rofies oopgekrap wat net-net genees het van die vorige jaar se vieringe, elke dag se gehamer of geliefdes verlore. Ek sê gereeld dat ons selde gelukkige lewens lei aan hierdie kant van glorie. Ek sê dit met rede, nie omdat ek self hierdie tragiese lewe het of sinies is nie, maar omdat ek op n gereelde basis intense hartseer en pyn deel in ander se lewens. Daar is soveel weghardloop, in almal. Ek dink nie iemand kan sê dat hulle nie al het of tans besig is om weg te hardloop van een of ander seer plekkie nie. En die ding van Kersfees is dat dit ons tot stilstand dwing, die hele land is stil (eerder figuurlik as letterlik) en in afwagting vir die 25ste om aan te breek. Hoe daardie dag vir elk breek is anders, maar die algemene faktor wat almal deel is Wie die dagbreek aan toegeskryf is. Ongelukkig kan niemand van Hom af weghardloop nie. Maak nie saak hoe hard jy jou arms pomp en hoe hoog jy jou bene oplig nie; glo my, ek het al menigmale probeer.
Ek en my pa was in hierdie week by die begrafnis van een van die ouer ooms in Parkie Kerk. Hy het onlangs sy hart vir God gegee en vir die 38 jaar wat hy en sy vroutjie saam was, net Parkie Kerk bygewoon. Ek het daar weer bewus van wat werklik saak maak in hierdie kortstondige verloop van tyd wat ons “lewe” noem. Dis baie eenvoudig, so eenvoudig dat jy eintlik daarteen wil skop en vra vir meer. Hoe kan dit al wees wat hierdie lewe bied, vra ons in ons ontbrekende menslikheid. Maar dis juis waneer jy daai “al” proe van die lewe, dat mens verstaan… of n klein gedeelte van dit verstaan, net genoeg wat ons kan hanteer. Want Hy is al wat ons nodig het, is al wat saak maak, is al vir wat ons leef en is meer as genoeg.
Yorumlar