Ek was 2 aande terug (weereens) in die Drakensberge. Ek was in n span van 4 mense wat bestaan het uit die leier (wat ek van n vorige guiding trip ken), n videograaf, n medic (wat ek ook al n rukkie ken) en ek. Ons was die safety span van Cleft Peak Aid station in die heel eerste Drakensberg Grand Traverse run. Dis n race oor die escarpment van die Draak - die hele 202km; self-sufficient en absoluut gruelling. Net 9 spanne het ingeskryf en mens hardloop dit in n paar, dus moet daar 18 mense verby ons kom voordat ons dit n dag (2 dae en een aand) kan noem.
Ons het met Camel pas opgegaan, maar net voor halfpad moes ons split, want ons sou nie betyds bo uitkom nie. Ek en die videograaf het vooruit gegaan, ons sakke by die toppunt van die pas gelos (4 ure later) en die bordjie opgevat na Cleft Peak, sodat die atlete darem weet die stasie is naby. Cleft Peak het vreeslike klowe en in die mis is dit onsettend maklik om n verkeerde paadjie te neem en oor die kant van die eksarpment te toppel in die nietigheid en wol kombers van wolke in. Dus was dit van kardinale belang dat die bordjie moes opkom en ons moes ook dringend by die grot uitkom waar ons die stasie sou beman het. Ons het geen idee waar die eerste atlete trek nie en ook nie of die ander 2 lede van ons span by die grot uitgekom het nie…
Op pad af van Cleft Peak na ons sakke, word my kopliggie baie flou en ek kan skaars voor my sien. Dit het ook begin reen. So ek en die videograaf deel een kopliggie, een GPS en soek n grot waar nie een van ons al voorheen was nie (die spanleier ook nie). Dis n vreemde gevoel, n gevoel wat mense nie sal verstaan as hulle nog nie self in so n situasie was nie – n gevoel van geen gevoel, maar terselftertyd so vol van emosie dat mens skaars kan praat. Mens druk net deur en hou net aan stap en beweeg, want ons verstaan dat om stil te staan dood kan beteken- al is dit net dood van gemoed, wat in die Berge sekerlik dood van liggaam tot gevolg het. Hierdie beseffenis het my ook getref toe ons hang oor n kloof opsoek na n paadjie na die grot… die verkeerde grot altans op daardie stadium. Ek het besef hoe maklik dit is om net te laat gaan, net die greep te los op werklikheid, die rots en op lewe. Ek het besef hoe klein en niksseggend ons lewens eintlik is, hoe betekenisloos dit is as mens nie betekenis aan dit gee nie. Ek het ook besef hoe wispelturig my lewe-liggie is en hoe stowwerig. Hoe ek net in elk geval eendag gaan terugkeer na stof.
In oomblikke soos hierdie gaan mens se gedagtes onbewustelik en onbeheersd na wat mens op die grond en in die lewe hou. Gesigte van geliefdes en gevoelens van lief en leed speel op die skerm van my brein nes n rolprent. Ek voel hoe hulle my weer aftrek aarde toe en ek tree terug op soliede grond en stap aan agter die videograaf, wat totaal onbewus is van die gewonne stryd in my gemoed. Ek het ook n intense bewustheid van n Ander Krag, n Mag veel groter en sterker as die Draak wat uitlok. n Hand wat my gekeer en gevang het oor die afgrond, my God wat gese het dis nog nie my tyd om huis toe te gaan nie.
Uiteindelik hoor ons n geroep toe ons om n rotsformasie loop, ons sien liggies en hoor die span leier. Hulle is klaar in die grot en het die eerste atlete net betyds kon kos en koffie gee. Die laaste paar 100m voel soos n ewigheid die helling op na die skuiling-grot, waar warm water wag vir koffie. Nes ons die grot nader, spaander die eerste span atlete weer weg en ek bewonder my aan hulle spoed, hulle samewerking as n eenheid en hulle gewoond wees aan die Berg se roep na die ewigheid. Want dis defintief daar… die aanhoudende roep na end en die rustige laat gaan na n rustiger plek. Maar terselftertyd is daar geen ander plek waar ek wou wees as daar nie en ook geen ander plek onder die hemel en hierdie kant van glorie, waar mens self meer lewendig ervaar nie.
Comentarios