top of page
Search
Writer's pictureChanelle Oosthuizen

Tyd

Updated: Dec 19, 2022


Ek het weereens vandag vir iemand gesê dat dinge beter raak met tyd. Die lewe, pyn en hartseer raak beter met tyd.


Tyd is n konsep waarin ons leef, ons leef intiem in n verhouding met tyd. Of dit dan nou n goeie of slegte verhouding is, dit is een ongeag. En ons dra die effek van hierdie verhouding so na aan ons soos die horlosie om ons pols. Tyd is die verloop van gebeure in die verlede, hede en toekoms, maar ook soveel meer. Want met tyd is daar ook baie toegevoeg en weggevat in ons lewens. En dit gesê, glo ek dat tyd nie geskei kan word van hartseer nie, dit gaan hand-aan-hand. Ek word nou daagliks gekonfronteer met die groot word van kinders, soos die tyd aanstap. Die verloop van tyd is duidelik in die swaarder word van die ophoping wat tyd op almal het. Tyd laat mense krom buk, nie altyd net fisies sigbaar nie. Dis eerder te siene in hoe iemand praat en kyk. Dit het n stadige, maar defnitiewe belas van persoon tot gevolg - ek sien hoe seuns begin dra aan die las en meisies onsuksesvol dit probeer wegsteek.


Daar is n oomblik, of paar, in n kind se lewe waar hulle onherroeplik tyd begin besef. Party kinders het vroeër hierdie beseffenis oomblikke as ander, vir redes baie keer buite hulle beheer. Dis oomblikke van ontnugtering uit n onskuldige en onoorwonne blik op die lewe, n manier van dink dat die lewe nog lank is. Met tyd, kom die sober besef van die aftrekkende, swaar kombers wat hartseer is. Mens is nie noodwendig as jongeling bewus (of bedoel om te wees) van die merke om ma se mond wat lyne trek soos n rivier se debris en die glans van n droë rivierloop in pa se oë nie. Maar daar kom n oomblik in n mens se lewe waar die verinneweeer van tyd (ek praat nie van plooie en vlekke nie) alledaags word en om te glimlag vir n vreemdeling vreemd is. Almal voel dit, die onvermydelike bekruip en toevou van tyd. Dis n diepe verinneweer van gemoed, van vreugde wat so stilletjies oor tyd gesteel word. Hoe kan tyd steel? Is dit dan n ding wat wag dat ons nie kyk nie en dan sy kans aaangryp, of staar ons dit elke dag in die gesig en bid en wag dat dit ons nie so erg tref nie? Van wanneer af is ons so hulpeloos teen die verloop van tyd? Van wanneer af voel dit asof tyd met ons weghardloop? En hoekom het ons nooit genoeg van hierdie ding wat vrylik aan almal beskikbaar is nie?


Daar is n tyd vir alles - sê almal. En netso sal tyd ook genees - sê almal. Maar wat as waarvan mens genesing nodig het, juis met tyd gekom het. Die besef, met tyd, dat die werêld nie altyd uitwerk soos wat dit moet nie, dat dit nie altyd so mooi is soos wat mens dink nie en dat daar altyd n einde sal kom aan alles. Ek wonder hoe tyd dan werk. Is dit dan nogsteeds genesend vir die met wonde wat brand vir salwing of is dit n tydelike pleister van vergeet wat net wag om afgetrek te word as tyd dit weer so bestem. Is vergeet en tyd dan sinonieme, wat uitruilbaar gebruik kan word? Vergeet kom met tyd en dit vat tyd om te vergeet. Maar tyd kan netso vinning omgekeer word in n paar sekondes wanneer al die onthou weer terugstroom en die pyn weer klop.


Is ons net produkte van hierdie konsep tyd waarmee ons in n liefde-haat verhouding verkeer? Word ons net meegesleur in die verloop van verlede, hede en toekoms? Het ons enigsins n kans teen hierdie genadelose stroom van gebeure in tyd vasgevang? Ons wil baie keer vergeet aanspoor om te kom wegvat as ons lewens oorweldigend voel. Maar wat is die doel van geheue dan? Hoekom koester ons herinneringe, sommiges teen ons eie beswil? Is dit menslike natuur wat wil onthou en herroep en hartseer ervaar? Dalk is hartseer, wat onvermydelik is met tyd, n teken van lewe en voel in harte wat sonder dit nie sal klop nie. Dalk is seer juis dit wat ons meer laat ervaar en dryf na vreugde. Is tyd ons vyand of vriend? Dit, dink ek, sal ek vir myself (met tyd) uitvind.


28 views0 comments

Recent Posts

See All

Genade

Ek het laas week weer gaan kospakkies uitdeel, n groot deel van hoe Hoopdraers (nie-winsgewende maatskappy) geleentheid maak om die Woord...

Kerstyd

Ek wonder baie keer oor die mense wat Hoopdraers gehelp het en steeds huidiglik ondersteun. Daar is so baie stories wat ek kan deel oor...

Ietsies

Comentarios


bottom of page